Van Krag tot Dag – 8 Aug ’24
Vir die volgende twee dae berei ons net voor vir die groot Kragdagskou. Laat die aand voor die skou ry ons na die perseel waar ons ook gaan kamp. Nadat ons ‘n skuifhek wou laat swaai, hom weer op sy spoortjie gesit het en omgedraai het, want ons het verdwaal, vind ons toe eindelik ons staanplek en slaan die maklike, vinnige tent in die piknagdonker op. Die koudste nag wat ek in ‘n lang tyd beleef het, volg ons tot in ons murg daai aand. Dit het gevoel asof ons net onder ‘n laken geslaap het.


Die dae is lank en warm en verskriklik stowwerig. Ek neem soggens vir Kahlua na die pelle se plaas en saans kom haal ek hom weer. Soos ‘n bedorwe koshuiskind. Hy doen so goed by die kamp. Loop los rond en speel met ons kampbure se seun, Stephan. Hulle was duidelik mal oor mekaar. Stephan het tot sy speelbal vir Kahlua gegee. “Hy hou daarvan, dis nou syne, en dit was anyway net R25,” was Stephan se woorde.
Die kampstorte……. Daar is nie gewoonlik ablusies nie, so hulle het opslaan storte en toilette gehuur. ‘n Hele trailer met 4 toilette en 5 storte. Die water is heerlik warm, maar as jy die eerste keer by die stort aankom met al jou klere aan en jou handoek, badgoed en nagklere en jy staan so voor daai stort, dan besef jy sommer vinnig jou fout. Hier is amper nie eens plek vir ‘n mens nie, wat nog te sê van al die klere. My skoene het ek maar op die trap buite gelos. Die klere op ‘n manier opgehang aan die 2 skamele hakkies en oor die reëling wat eintlik vir ‘n stortgordyn bedoel is.
Na ‘n heerlike warm stort, ‘n nat baadjie en ongelooflike akrobatiese passies, het ek my klere aangekry sonder om ‘n spier te skeur. Johan gaan nie happy wees nie. Die dae wat volg het ek maar my “walk of shame” geloop met net ‘n kamerjas en stowwerige skoene. Een van die kommentare wat ek uit een van die manne se tente gehoor het toe ek verbystap was: “Die stort is so klein, as jy vinnig omdraai slaan jou ore jou dwarsdeur jou gesig,” (dis nie regtig presies wat hy gesê het nie, maar ek’s ordentlik)
Ek’t my lag met moeite ingehou.
Arme Johan het ge’wetwipe’ en wasbak bad. Die toilette het meer spasie as die storte en ‘n bietjie pakplek ook. Dit was darem net vir 4 dae. Ek was teen dag 4 ‘n pro.

Terwyl ons by die Expo was, het iets met Kakao en Kahlua se hormone gebeur en my hond kry ‘n ander persoonlikheid. Kakao is op hitte. Kahlua is MAL! Hy kan op niks anders as op haar fokus nie. Die kwyl loop sommer so as hy aan haar ruik. Hy verloor homself heeltemal en ons verloor slaap. Hy tjank dwarsdeur die nag en flous ons met groot piepies en behoeftes, maar eintlik gaan soek hy net sy girlfriend op.
Ons het ‘n bose moeite om die twee van mekaar af te hou. Dag 3 van niks slaap, sê ek en Johan gelyk vir mekaar. “Ons skuif vandag!” 3 Ure later staan ons tent op ‘n ander plek op die plaas en ons is nou in volle kamp mode. 7h Die volgende oggend het Kahlua ontsnap… Ag fok tog.
Dit was nou glad nie opwindend nie, maar ook nie ‘n verrassing dat hy reg om die jaart gehardloop het om ‘n inkom plek by Kakao te soek nie.