“Gods must be crazy” in Pretoria – 31 Aug ’24
Daar het nou so paar dae verby gegaan en ons kry minder koud in die aande, ons hanteer die stof in die dag en durf nie kla oor die hitte van die dae nie. Dis darem net te ‘n groot geskenk om nie konstant koud te kry nie. Ek het nie geweet dis moontlik om in jou eie land agter die son aan te trek nie. Wat ‘n voorreg.
Nou ja, niks is mos eenvoudig in ons lewe nie, en so kom ons tot die besef dat ons “nuwe” ou motor nie lekker is nie. ‘n Pel van ons vriende se seun is ‘n motor boffin en het na ‘n bietjie se kyk deur die kar gesien daars heelwat fout met die kar en dat dit nie onlangs gediens was nie. So ons is definitief ingedoen deur die oom by wie ons die motor gekoop het. Dit gaan duisende rande kos om reg te maak so ons bly so bietjie langer by die Smitte as wat ons beplan het.
So sonder ‘n kar, leen ons toe gister een van die seuns se motor. Met instruksies dat daar sommer ‘n spanner langs die battery onder die bonnet lê en dat dit gecharge moet word. Maar ons is mos nou “fancy” en nie lus vir wag nie, so ons gebruik die Gizzu Battery starter vir sy motor en daar gaat ons. Ek bestuur en Johan maak hekke oop vir ‘n slag.
Die groot hek lê so 1km van die hoofhuis af en halfpad soontoe sê ek vir Johan: “Die ding is besig om krag te verloor.” Teen 20km/h snel ons spoedig voort. Johan neem toe oor en ons kyk of hy nie kan regkom nie. Nee…daar vrek die kar. Die battery is weer morsdood. Bonnet oop, Gizzu Jumpers uit en daar gaat ons weer. Aan die begin gaan dit goed en dan poer-poer ons weer teen 20km per uur. Op die ou end, nog voor ons by die hoofpad kan kom, besluit ons hierdie dorpuitstappie gaan ons ‘n skop moet gee en draai om op ‘n sypad, maar voor ons ordentlik kan omdraai, vrêk die kar weer. Hierdie keer sommer in die middel van die pad. Shit!
Ek spring uit en waarsku motors om stadiger te ry. Teen hierdie tyd bult my armspiere al van al die kere se bonnet oplig en weer laat sak. Ek voel soos iets uit ‘n Mr Bean Movie uit. Hier stop ‘n tannie en haar seun en sy sê: “My seuntjie is nie baie groot nie, maar ons kan help stoot.” Die mooiste rooikop seun. Teen die tyd weet ek al as die kar gestart het, het ons baie beperkte tyd om weg te kom, want as jy te stadig ry, vrek die spul weer. Nou probeer ek dankie sê en nice wees met die tannie, die kar start, die goed uitplug en toeslaan sodat bekommerde Johan die kar uit die pad kan kry. Dis ‘n fiasco! En raai wat… toe vrek hy weer. Gelukkig net langs die pad.
Al die moeite vir ‘n bier en ‘n vleisie. Na die kar afgekoel het en ons hom weer aan die gang kry, speel daai fliek in my gedagtes af van Marius Weyers (The Gods must be crazy) wat ook nie sy Landrover kan afskakel nie en ook nie meer brieke het nie. Hy ry so met ‘n klip rond sodat hy net dié agter ‘n band kan gooi. Dis histeries snaaks en ek beleef soortvan waardeur hy moes gaan. Toe ons uiteindelik weer by die hek kom en die gevrekte kar moet start, sê ek vir Johan hy moet aanhou ry dan sal ek die kar van agter af inhardloop as ek die hek klaar toegemaak het. Dis hier waar ek en Marius ‘n goeie verstandhouding, onwetend, gekry het.
Ek maak vinnig die swaai hek toe.. vinnigerig. Nou hardloop ek om by die oop deur in te spring. Dan ry Johan vinniger en dan stadiger en ek dink “Jis, die kar is nou in sy tjops!” Met ‘n gegil en gegiggel is ek daar in en jy kan nie glo nie, maar daar’s ‘n moerse smile op my gesig. Dit was erg opwindend.
Ons haal die huis met ‘n hoes en ‘n proes en ons vriendin kom uit en sê…. “Dit klink nie goed nie.” Nou ja, toe probeer ons maar weer met ‘n volgende kar. Hierdie keer suksesvol. Daai aand geniet ons ‘n vuurtjie en ‘n biertjie. Wat ‘n lekker dag.