Die Begin – 4 Aug 2024
Ons “nuwe” – “ou” kar is gepak. ‘n Ssangyoung Musso, en ‘n 4×4 trailer loop oor van ons lewe wat nou in kratte, bokse en sakke gepak is. Ek’t geen beenspasie nie, want my pa het padkos gemaak en my ma gee elke keer as sy verby my loop vir my nog iets om saam te neem. Die twee piesangs wat sy minute voor ons ry in my hand gestop het, het my so baie aan Zanel laat dink. My sussie haat die reuk van ryp piesangs haha! En dit kan ‘n motor se atmosfeer nogals oorneem.
Ons vertrek uiteindelik uit Yzerfontein. Ons sou al 2 dae terug gery het, maar die pakkery het net nie klaar gekom nie. Wat vat jy en wat los jy om vir ‘n jaar of meer te kamp-toer. Ons het die afgelope maand by my ouers gebly. Dis die langste wat ek en Johan en Kahlua (ons Duitse Herdershond) nog ooit by hulle gekuier het. Ou Gato, my kat wat nou deur my ouers aangeneem is, was nie te opgewonde oor die hond nie, maar ons het dit laat werk. Watter voorreg om vir ‘n maand te kan groet en kuier en eet! Die bederf het nie limiete nie.
Nou ja, ons was al 4h op vanoggend om die laaste goed te pak en te doen voor ons gaan. Dit reën en omstandighede is horrel, maar nou-ja, dit is die Boland/weskus en dit is winter. Ons is uiteindelik oppad en my ma en pa waai uit die deurmekaar en oorvol garage uit vir ons. Nou is dit nog voller met die goed wat ons gelos het.
Ons kom so ver soos die petrolstasie om vir die laaste keer seker te maak die bande is reg en als is so vas soos dit kan wees. Ons weet die motor wil start, toe sê hy net kliek… oops! “Wat de Hel!” “Raait”, sê Johan. “Panic Slowly” Dis wat ons vlieënier vriend, Chris, vir ons geleer het. Ons begin ons fone uitruk en google wat die probleem kan wees. Die motor wil nie start nie Dis ‘n outomatiese kar waarvan ons niks weet nie. Ons maak goed oop en kyk na fuses en later is die kassie waarin die ratte is, ook al oop. In stilte dink ons ons eie dinge en wat die jare ons al saam geleer het op al die avonture. Dit help nie om te stres nie. Vat dit maar net soos dit kom, oomblik vir oomblik, as dag vir dag te veel is om te hanteer.

Daar in die gleufie van die rat-console, sien ek so wit plastiek “levertjie” en ek druk dit terwyl ek die rat probeer oorsit na drive… En sowaar as wragtig! – Soos ouma Eileen sou sê. Daar werk die ding.
Ons sug en smile vir mekaar. Kahlua is weer opgewonde hier agter ons en ons kan vertrek. Ek kan nie help om te dink watter struikelblokke lê op die langpad Pretoria toe vir ons nog voor nie. Die pad loop mooi. Stadig, maar mooi. Die groen en reën skiet verby ons soos die toneel begin verander. As ‘n mens ver ry is daar gewoonlik nie veel opwinding nie, maar die padkos was AMAZING! (Dankie Pappa en Mamma)
11Ure later met piepie stoppe en baie liters diesel later, stop ons op Colesberg. Dis donker en koud. Ons het besluit ‘n huisie gaan die beste opsie wees. G’n mens is nou lus vir ‘n nat tent opslaan nie. Ooooh en die bed het elektriese komberse op! Ek is so bly, want dis nogals koud.
Ons maak die bottel rooiwyn wat ek al vir ‘n jaar en ‘n half vir Johan wegsteek, met moeite oop. Die kurk het verkrummel, maar dis ‘n goeie wyn en dis ter viering van ons eerste aand op ons Suid-Afrika toer. Ons, veral ek, raak sommer gou simpel. Ek drink nie eintlik nie, want my vel hou niks daarvan nie, maar vanaand vier ek fees en ek’s lig op petrol. Met ‘n vrolike hart gaan stort ek by die ablusies. Om ‘n bietjie agtergrond te gee: Daar was iets fout met my ouers se gasgeyser en jy was gelukkig as jy maksimum 2 minute uit die warm kraan kon kry. Hare was was ‘n probleem. Met ander woorde, ek’t die ablusie stort misbruik, gebruik en dit was fantasties.
Lekker geslaap, dis 7h en ons is weer oppad. Dis so koud, die tent op die trailer en al die vensters is stokstyf gevries. Moes eers water gooi om die spul te laat smelt.
Lyk my 11ure is maar die tyd wat ons spandeer aan ‘n gewone 8ure pad. Ons noem ons motor die Sluwe Sloth. Stadig, maar lekker.
Maandagaand kom ons by ons vriende op die kleinhoewe in Pretoria aan. Moeg, maar opgewonde om daar te wees. Kahlua spring uit die kar en is baie bly om weer sy maatjies, Loutjie en Kakao, te sien. Ons is baie bly om ons vriende te sien en om te slaap.















